’n Emosionele en hartverskeurende toneel het vanmiddag op die plaas Vaalbank, buite Bronkhorstspruit, afgespeel waar Duncan Nyawo, die stapper teen plaasmoorde, sy naamgenoot, dr. Duncan Prinsloo, ontmoet het wat in 2008 die slagoffer van ’n wrede plaasaanval was en waarin sy vrou doodgeskiet is.

Prinsloo, ’n boer en veearts, wat in sy onderlyf verlam is en met krukke oor die weg moet kom, het op sy knieë neergesak toe hy Nyawo ontmoet het en hom bedank vir sy bewusmakingsveldtog teen plaasaanvalle en –moorde.“Ek haal vandag my hoed vir jou af. Dankie vir wat jy doen en dat jy vir ons opstaan.”

Nyawo en sy vier medestappers het trane in hul oë gekry toe hulle sien hoe moeilik Prinsloo beweeg.“Ek is jammer oor wat met jou gebeur het. Wat besig is om in land te gebeur, is verkeerd,” het Nyawo gesê.

Hy het vertel dat hy as kind by ’n Senekal-egpaar op ’n plaas grootgeword het waar hy soos hul eie kind behandel is. “Hulle is wreed vermoor en my drome om eendag ’n dokter te word, is saam met hulle begrawe.”
Nyawo is tans ’n studente-onderwyser by die Ngodini Secondry School in Kabokweni, Mpumalanga.

Hy het Maandag op Vryheidsdag met ’n staptog van 350 km van Nelspruit na die Uniegebou in Pretoria begin om mense oor plaasmoorde en moorde op polisielede bewus te maak.
Nyawo het gesê dit is tyd dat alle Suid-Afrikaners besef hulle het mekaar nodig en dat hulle in vrede moet saamleef. “Niemand is vry as mense vermoor word nie.”
Nyawo het gesê dit is tyd dat die regering en groeperinge in die land die belangrike rol van boere besef. “Diegene wat die heeltyd uitsprake oor grondeise maak, kan nie eens hul eie jaart bewerk nie. Wat nog te sê van ’n plaas. As mense die boere wat hard werk se grond net wil vat, moet hulle hul maar eerder by (Robert) Mugabe-hulle gaan aansluit.”
Prinsloo het Nyawo bedank vir die insig wat hy in die land se probleme het en dat hy bereid is om daaroor te praat.

Prinsloo het bewoë vertel van die aanval in November 2008 waartydens sy vrou, Laetitia, doodgeskiet en hy swaar gewond is.
“Dit gaan maar baie moeilik. Ek het steeds geweldig baie pyn en lewe op pille. Ek is baie onstabiel en het geen gevoel in my bene nie wat dit moeilik maak om my werk te doen.”
Prinsloo spesialiseer steeds in bees- en perde-embrio’s.

Hy het gesê min mense besef wat die impak van ’n plaasmoord of aanval agterna op die gesin en wyer gemeenskap is. Sy dogter wat destyds in gr.11 was en haar ma dood in die bed aangetref het, moes jare lank berading kry. “Ek het my sielsmaat verloor en dit was en is steeds nie maklik nie.

“My plaas het uitmekaar geval en baie werksgeleenthede het vir mense verlore gegaan.”
Prinsloo het gesê sy geloof is al wat hom dra. “Ek dank die Here dat ek Sy kind is en dit kan bely. Ek hou vas aan die Woord wat sê niks sal met my gebeur waarmee God nie ’n doel het nie.”

Die Prinsloos se aanvallers is nooit aangekeer nie.