|

ONTEIENING SONDER VERGOEDING

Beste AfriForum-ondersteuner

ONTEIENING SONDER VERGOEDING

Soos jy weet het die parlement onlangs ’n mosie ten gunste van onteiening sonder vergoeding aanvaar. Hierdie was ’n beginselbesluit en die parlement moet nou ondersoek instel oor hoe artikel 25 van die grondwet (die artikel wat eiendomsreg beskerm) gewysig moet word om hieraan gehoor te gee. Die kommissie wat hiermee getaak is, het tot 30 Augustus om terugvoer gee. In hierdie tyd gaan ’n proses van openbare deelname plaasvind.

AfriForum het reeds ’n omvattende veldtog teen onteiening sonder vergoeding van stapel gestuur. Die belangrikste aspekte van AfriForum se veldtog is die volgende:

  1. Internasionale veldtog

AfriForum sal ’n internasionale veldtog dryf om die internasionale samelewing, Suid-Afrika se handelsvennote en beleggers te waarsku oor hierdie beleid. Die internasionale samelewing sal gevra word om druk op die Suid-Afrikaanse regering toe te pas om nie met hierdie beleid voort te gaan nie. Vir hierdie doel het AfriForum ’n versoekskrif op www.onteiening.co.za van stapel gestuur, waarvoor ons jou steun nodig het.

  1. Veiligheidstrukture

AfriForum beplan om ’n verskerpte fokus op die uitbreiding van sy veiligheidstrukture te plaas. Sedert die ANC hierdie mosie by sy kongres in Desember aanvaar het, was ’n duidelike toename in plaasaanvalle sigbaar. Sedert die mosie in die parlement aanvaar is, was daar ook ’n duidelike toename in onwettige grondgrype. Om hierby betrokke te raak, stuur ’n e-pos na veiligheid@afriforum.co.za.

  1. Dokumentêre film oor grond

Forum Films, AfriForum se filmmaatskappy, is besig om ’n dokumentêre film oor grondhervorming te vervaardig. Hierdie dokumentêr sal in die komende maande van stapel gestuur word en behandel die geskiedenis van grondbesit in Suid-Afrika. Die gevolge van grondhervorming word ook in dié dokumentêr ontbloot. As jy enige inligting oor die geskiedenis van grondbesit het, of oor plase wat deur die staat onteien of herverdeel is en hierdie inligting aan die filmspan wil oordra, stuur ’n e-pos na forumfilms@forumfilms.co.za.

  1. Deelname aan prosesse

AfriForum sal aktief deelneem aan die openbare deelnameprosesse wat gaan volg. In hierdie verband sal AfriForum verskeie aksies van stapel stuur, wat konferensies, die publisering van verslae en selfs protesaksies insluit. Jy kan hierby betrokke raak deur ’n e-pos na eiendom@afriforum.co.za te stuur.

Ons moet besef dat hierdie beleidsbesluit vernietigende gevolge kan inhou. Daarom kan ons nie bekostig om slap te lê nie. AfriForum sal indien nodig, met die ondersteuning van ons lede, hierdie mosie tot in die raadsale van die Verenigde Nasies beveg.

Die ANC het reeds tekens begin toon dat hulle moontlik onder dié druk kan swig. Daarom is dit nou belangriker as ooit om by hierdie veldtog betrokke te raak.

Stuur hierdie skakel asseblief aan jou vriende.

Vriendelike groete

Kallie Kriel

Uitvoerende hoof

AfriForum

Similar Posts