|

Malema hits grondbesetting aan ondanks hofverskyning

Julius Malema, leier van die EFF, het vandeesweek te midde van sy hofverskyning in Newcastle voortgegaan om ondersteuners buite die hof aan te moedig om grond te beset.

Malema het op aanklagte van die oortreding van die Wet op Oproerige Byeenkomste van 1956 verskyn. Dit spruit uit ’n voorval waar hy ondersteuners aangehits het om grond onwettig te beset. Die saak is tot Februarie 2019 uitgestel hangende ’n uitspraak deur die Konstitusionele Hof oor die grondwetlikheid van die aanklagte.

Malema sal ook op 28 Julie vanjaar op dieselfde aanklagte in die Bloemfonteinse streekhof verskyn. Dié aanklagte spruit voort uit ’n voorval in 2014 toe hy EFF-lede tydens ’n verkiesingskonferensie aangemoedig het om grond te beset.

Malema het gister buite die hof in Newcastle sy uitlating dat die meerderheid Indiërs rassisties is, herhaal. Hy het ook sy vorige uitlatings oor grondonteiening en besetting herhaal. Hy het aan sy ondersteuners gesê dat hulle almal binne vyf jaar grond sal hê. “Julle sal gelyk wees aan die wit minderheid in die land en wit mense sal in julle huise werk.”

AfriForum het intussen verlede maand aangekondig dat hy daartoe verbind bly om Malema privaat te vervolg indien die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) dit nie doen nie. Die beoogde vervolging hou verband met beweerde korrupte bedrywighede van die maatskappy On-Point Engineering in Limpopo. On-Point, waarby Malema se familietrust ’n belang het, was aangestel om die Limpopo departement van paaie en vervoer in 2009 met infrastruktuurontwikkeling, -onderhoud en –beplanning te ondersteun en het omkoopgeld van suksesvolle tenderaars ontvang wat vir dié doel aangestel is.

AfriForum is ook in samewerking met AfriSake besig met voorbereidings vir ’n saak van minagting van die hof teen Malema. Dit volg nadat ’n hofbevel in 2017 teen hom bekom is om hom te verbied om mense aan te hits om grond te beset. Met sy voortgesette uitsprake maak hy hom skuldig aan minagting van die hof.

Similar Posts