Kallie Kriel – uitvoerende hoof van AfriForum

Die Konstitusionele Hof (KH) se onlangse uitspraak waarin AfriForum verlof tot appèl geweier is teen die Universiteit van die Vrystaat (UV) se slegs Engels-taalbeleid, gee ’n aanduiding van hoe diep verstrengel die KH in die rasbehepte ideologie van die heersende orde en politieke elite geraak het. ’n Mens het waardering daarvoor dat regter Johan Froneman, met die steun van regters Cameron en Pretorius, in sy minderheidsuitspraak nie lustig meegedoen het aan hoofregter Mogoeng en kie se meerderheidsuitspraak waarin Afrikaans op die brandstapel geplaas is ter bevordering van die heersende rasbehepte transformasie-ideologie nie.

Die wurggreep van ideologie op die KH het egter selfs ’n invloed op die minderheidsuitspraak, aangesien Froneman soos in die straatnaamsaak eers ’n kniebuig voor die heersende orde moes maak deur opponente van die rasbehepte transformasie-ideologie soos AfriForum te kritiseer, voordat hy dit durf waag om van die meerderheid te verskil.

Die ironie is dat diegene wat vir Afrikaans se voortbestaan veg en die slagoffers van die heersende orde se anti-Afrikaanse agenda is, nou met hierdie kritiek op die beskuldigdebank geplaas word, terwyl die anti-Afrikaanse rassiste eerder in die beskuldigdebank behoort te staan. Net so onvanpas is dat die kritiek teen AfriForum geensins op regsgronde berus nie, maar bloot omdat AfriForum weier om goedsmoeds by die heersende orde se siening van sake in te val. Wanneer die hof aan organisasies soos AfriForum wil begin voorskryf wat hulle standpunte moet wees, beweeg ons op gevaarlike terrein.

Ek besef deeglik dat my standpunt dat die KH in die ideologie van die heersende orde verstrengel geraak het, ’n storm sal ontketen onder diegene wat die KH en Grondwet tot goddelike status probeer verhef. Moenie my verkeerd verstaan nie; ek voer nie aan dat die Grondwet en die KH nutteloos is nie. Dit is immers ’n feit dat die KH sterk uitsprake teen pres. Zuma gemaak het rakende die Nkandla-skandaal en ander sake. Wat ek wel aanvoer is dat Afrikaners, Afrikaanssprekendes en ander minderhede moet besef dat onderskeid getref moet word rakende die tipe sake wat met sukses in die KH gevoer kan word.

Wanneer ’n saak handel oor geskille binne die heersende politieke elite, korrupsie, wanadministrasie of ander sake wat niks met ’n rasse-ideologie en transformasie te doen het nie, is die kans goed dat die hof tot voordeel van die hele gemeenskap sal beslis. Die meeste van AfriForum se hofsake val in hierdie kategorie en daarom sal die organisasie voortgaan om die howe met vrug aan te wend om swak dienslewering en korrupsie te beveg.

In sake waar Afrikaners en ander minderhede se belange opgeweeg moet word teen die heersende ideologie, het die KH reeds klokslag gewys dat minderhede se regte as ondergeskik gesien word. Diegene wat my vir hierdie stelling wil kritiseer, kan gerus gaan lees wat regters Froneman en Cameron in hulle minderheidsuitspraak in die straatnaamsaak geskryf het. Hulle het gewaarsku dat die meerderheidsuitspraak op die volgende neerkom: “Any reliance by white South Africans, particularly white Afrikaner people, on a cultural tradition founded in history, finds no recognition in the Constitution, because that history is evidently rooted in oppression.”

Benewens die KH se kondonering van die ondermyning van Afrikaans by die UV, is daar ook talle ander uitsprake wat minderhede se regte aantas. Só het die KH onder meer al bevind dat die onteiening van mineraalregte nie ’n skending van eiendomsreg is nie, dat rassediskriminasie teen wit mense in die werksplek aanvaarbaar is, dat Afrikaanse skole gedwing kan word om hul taalbeleid te verander en dat prosesgedrewe openbare deelname van minder belang is tydens naamsveranderinge. Hierdie uitsprake bots natuurlik lynreg met die beloftes wat die grondwetlike onderhandelaars aan Afrikaners gemaak het tydens die politieke oorgang. Afrikaners is belowe dat sou hulle van hul politieke mag afstand doen, hul eiendom, onderwys en taal in ruil beskerming sou geniet. Nou blyk dit dat Afrikaners mislei is.

Die besef dat die KH nie Afrikaners en Afrikaners se regte as minderheidsgemeenskappe in beskerming gaan neem nie, beteken die einde van ’n era. Waar baie Afrikaners die afgelope dekades eers grootliks hulle hoop op die destydse regering van nasionale eenheid en later uitsluitlik op die Grondwet geplaas het as meganisme wat minderhede sal bystaan in hul strewe om blywend vry, veilig en voorspoedig voort te bestaan, is dit nou duidelik dat ander oplossings gesoek moet word.

Afrikaners, Afrikaanssprekendes en ander minderhede moet egter daarteen waak dat die besef dat die Grondwet nie al hulle regte as minderhede beskerm nie, nie tot ’n staat van moedeloosheid lei nie. Afrikaners het in hulle geskiedenis al voor baie groter uitdagings te staan gekom, soos ná die Tweede Vryheidsoorlog toe hulle self van nuuts af ’n toekoms moes bou. Daar is geen rede waarom die huidige geslag nie ook die uitdagings kan oorkom deur selfstandige instellings te vestig wat selfdoenaksies aanpak om ‘n beter toekoms te bou nie. Indien die huidige bedeling nie aan Afrikaanssprekendes ’n Afrikaanse universiteit en ander kulturele ruimtes gun nie, sal minderheidsgemeenskappe self selfstandige ruimtes moet skep waar hulle voortbestaan verseker kan word. Mogoeng en kie se anti-Afrikaanse uitspraak is ’n wekroep dat privaat Afrikaanse onderriginstellings soos Akademia en Sol-Tech nog vinniger sterker gemaak moet word. Ons kan en gaan dit regkry.