Drie slagoffers wie se lewens deur plaasaanvalle en -moorde geraak is, het vandag tydens ‘n verfilmde gespreksgeleentheid in Pretoria hul stories aan die wêreld vertel en gereageer op die onlangse uitspraak van president Cyril Ramaphosa dat daar nie so iets soos plaasmoorde in Suid-Afrika is nie.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het die gesprek geopen deur te sê dat dit nou belangrik is om die slagoffers se verhale te vertel eerder as om voortdurend oor statistiek te debatteer.

Dalene Muller, wie se man Johnny deur sy kop geskiet is, maar wat die aanval oorleef het en self ook by vandag se gesprek teenwoordig was, sê dat dit ‘n wonderwerk is dat Johnny nog leef. “Hy is op baie kort afstand geskiet,” vertel sy.

“Die plaas is ons huis, ons tuiste. Johnny is ‘n opgeleide boer en om te boer, is wat hy doen. Dit is nie vir ons prakties of finansieel moontlik om op enige ander plek te bly nie,” antwoord Dalene op ‘n vraag oor waarom hulle steeds ná die aanval op die plaas bly.

Claudine van Wyk, wie se pa Sarel Janse van Rensburg wreed in ‘n plaasaanval vermoor is, en wie se oom en tannie, Johan en Gloudien Janse van Rensburg, minder as 18 maande vantevore óók tydens ‘n plaasaanval vermoor is, beskou ‘n plaasaanval as so wreed en onverwags soos ‘n haaiaanval. “Jy sien dit nie kom nie,” sê sy.

Op ‘n vraag oor haar reaksie op president Ramaphosa se bewering dat plaasmoorde nie in Suid-Afrika bestaan nie, sê Van Wyk dat ‘n mens sou verwag dat jou land se president jou belange as Suid-Afrikaanse burger sal beskerm. “Dit is skokkend en ontstellend om te besef dat die persoon wat gekies is om ons op die hoogste vlak te verteenwoordig hierdie werklikheid so blatant ontken. My familie kan nie meer vir hulself praat nie; hulle is vermoor. Ek sal hul stem wees om vir die wêreld te vertel wat hier gebeur. Ek sal nie stilbly nie. Dit is tyd dat die volle waarheid vertel word,” sê Van Wyk.

Willem Stafleu, wie se vrou Vanessa Stafleu tydens ‘n plaasaanval voor hulle 3- en 5-jarige kinders doodgeskiet is, sê ‘n traumatiese ervaring soos hierdie het ‘n onuitwisbare impak op kinders. “Dit is nou ses jaar later en daar is steeds geluide of ander omgewingsnellers wat my kinders diep affekteer. Hulle wil steeds nie in hul eie kamers slaap nie en die feit dat die aanvaller(s) nog nie gearresteer is nie, maak dit erger.

“Hierdie is ons tuiste waar ons grootgeword het en ons wil nie hier weggaan nie, maar misdaad in hierdie land is buite beheer. Om boonop te hoor dat jou president ontken dat plaasaanvalle en plaasmoorde ‘n werklikheid is, laat jou voel dat dit alles verniet is,” sê Stafleu.

Roets wys daarop dat die prioritisering van plaasmoorde een van AfriForum se hoofveldtogte is. “Ons moet realisties wees; ons verwag nie van die buiteland om ons probleme vir ons op te los nie. Ons kan egter daaroor praat en die boodskap op sosiale media versprei dat misdaad, en in hierdie geval plaasaanvalle en -moorde in Suid-Afrika, nie langer ontken kan word nie,” sê Roets.