|

Blitsgids teen grondbesetting word bekendgestel

AfriForum en Afrisake het vandag in Pretoria ’n handleiding oor grondbesetting bekend gestel. Die burgerregte-organisasie het tydens die konferensie beklemtoon dat gemeenskappe hul eiendom self moet beskerm en nie op die staat moet staatmaak nie.

Dié stelling word versterk deur veranderende wetsontwerpe oor grondonteiening en ook deur uitsprake van die regering wat al meer ’n Zimbabwiese grondhervormingstyl aanneem.

“Onwettige besetting en toe-eiening van grond, asook politiese aanslae op die Grondwet raak al hoe meer algemeen in Suid-Afrika. Dit is van kardinale belang dat grondeienaars hulself van hul regte vergewis, asook wat hulle tydens sodanige besetting te doen staan,” sê Armand Greyling, AfriSake se regs- en beleidsanalis.

Ben Freeth, ’n boer van Zimbabwe en skrywer van die boek Mugabe en die wit Afrikaan, was deel van dié paneel en waarsku dat ’n Suid-Afrika sonder georganiseerde gemeenskappe die risiko loop om dieselfde krisis in die gesig te staar as wat tans in Zimbabwe ervaar word.

“Grondeienaars het regte. Ons kan ons eiendom beskerm deur regsaksies in te stel waar grond beset word en veral deur proaktief op te tree om besetting te verhoed. Wanneer strukture onwettig opgerig word en besetters onversteurde verblyf geniet, moet ’n siviele saak teen dié persone gemaak word. In die geval waar besetters kennis dra dat hulle onwettig grond betree, kan strukture afgebreek word mits daar ’n betredingsaak by die polisie aanhangig gemaak is. Die polisie móét egter te alle tye ooreenkomstig die betredingswet optree,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Cameron sê dat die staat deur regsoptrede tot verantwoording geroep kan word, maar dat gemeenskappe self hul eiendom met plaaslike veiligheidsinisiatiewe soos buurt- en plaaswagstelsels moet beskerm.

“Voorkoming is beter as genesing en grondeienaars het die reg om hul grond teen onwettige besetting te beskerm,” sê Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger.

Die proaktiewe oplossings wat in dié handleiding bespreek word, sluit in paraatheid, buurtwagte, toesighouding, okkupasie- en toegangsbeheer. Die wettige verwydering van onwettige strukture, bewoon sowel as onbewoon, word ook behandel.

Grondgrype – Blitsgids oor grondbessetting vir grondeienaars.

Similar Posts