|

AfriForum verwelkom Konstitusionele Hof se uitspraak dat Zuma onregmatig opgetree het deur mee te doen aan opskorting van SAOG-tribunaal

Die Konstitusionele Hof het vandag in ʼn groep Zimbabwiese boere wat deur AfriForum bygestaan is, se guns beslis dat oudpresident Jacob Zuma onregmatig en onkonstitusioneel opgetree het toe hy saam met ander leiers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) meegedoen het aan die opskorting en ontbinding van die SAOG-tribunaal se werksaamhede.
Zuma se onregmatige optrede het volgens AfriForum die Zimbabwiese boere wie se grond sonder vergoeding deur die Zimbabwiese regering onteien is, ontneem van hulle reg om deur die SAOG-tribunaal vergoeding te eis nadat dié tribunaal reeds bevind het dat die Mugabe-regime se onteiening van grond sonder vergoeding rassisties en onwettig was.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die hofuitspraak nie net ʼn oorwinning vir die Zimbabwiese boere en vir AfriForum nie, maar vir almal wat daarin glo dat leiers verantwoordbaar gehou moet word indien hulle ʼn rol speel om eiendomsreg as basiese mensereg te vertrap deur onteiening sonder vergoeding moontlik te maak en regsoptrede daarteen te verydel.

Kriel wys daarop dat AfriForum nou met die Zimbabwiese boere wat deur AfriForum verteenwoordig word, oorleg sal pleeg met die oog op die instelling van ʼn skadevergoedingseis teen die Suid-Afrikaanse regering. “Noudat die hoogste hof in Suid-Afrika bevind het dat Zuma as staatshoof onregmatig tot nadeel van Zimbabwiese boere opgetree het, beteken dit dat die Suid-Afrikaanse regering aanspreeklik gehou kan word vir die verliese wat boere gelei het weens Suid-Afrika se optrede om die SAOG-tribunaal se werksaamhede op te skort,” voeg Kriel by.

Hierdie optrede moet ook volgens Kriel ʼn duidelike boodskap aan die Suid-Afrikaanse regering stuur dat AfriForum nie sal huiwer om van internasionale regsprosesse gebruik te maak om leiers wat op enige wyse help om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, uiteindelik tot verantwoording te roep nie.
Die hooggeregshof in Pretoria het reeds vroeër vanjaar bevind dat Zuma onregmatig en onkonstitusioneel opgetree het toe hy en ander staatshoofde van die SAOG vroeër die verrigtinge van die SAOG-tribunaal opgeskort en later die tribunaal heeltemal ontbind het. Aangesien die hooggeregshof se bevinding ʼn presidensiële handeling raak, moes dit egter deur die Konstitusionele Hof bekragtig word.
Die hofaansoek is aanvanklik deur die Vereniging van Prokureursordes van Suid-Afrika geloods. Verskeie Zimbabwiese boere wat deur die grondgrypproses in Zimbabwe benadeel is, waaronder Ben Freeth en Luke Tembani, het hulle later met AfriForum se bystand by die hofaansoek aangesluit.
Freeth is die skoonseun van Mike Campbell, wat in 2008 geskiedenis gemaak het met ʼn suksesvolle aansoek na die SAOG-tribunaal (wat destyds in Windhoek, Namibië, gesetel was) teen Robert Mugabe se Zimbabwe-regering. Die tribunaal het toe beslis dat die Zimbabwiese grondhervormingsproses onwettig en rassisties was en gelas dat Mugabe dit staak.
In reaksie het Mugabe egter die interdik van die tribunaal geïgnoreer en eerder die res van die SAOG-leiers oorreed om die tribunaal te ontbind. Sodoende het die bevordering van menseregte en die oppergesag van die reg ʼn geweldige terugslag gekry en is Zimbabwiese boere ontneem van die geleentheid om vergoeding deur die SAOG-tribunaal te eis.

Similar Posts