|

AfriForum versterk sy veldtog teen onteiening sonder vergoeding ná ANC-uitspraak

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag aangekondig dat hy sy veldtog teen onteiening sonder vergoeding sal verskerp binne en buite Suid-Afrika. Dít volg nadat die ANC gister 21 Mei aangekondig het dat hulle sal poog om onteiening sonder vergoeding deur te voer binne die raamwerk van Artikel 25 van die Grondwet, terwyl die proses om Artikel 25 van die Grondwet te verander, sal voortgaan.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat AfriForum beplan om mondelinge voorleggings aan die parlement te maak en om aan die verskeidenheid van openbaredeelnameprosesse deel te neem. Die organisasie is ook van voorneme om met die beleggingsafvaardigings, wat onlangs deur president Cyril Ramaphosa saamgestel is met die doel om buitelandse beleggers te lok, te vergader. AfriForum dryf ook ’n petisie in dié verband en protesoptrede word tans oorweeg.

“AfriForum sal voortgaan met sy internasionale veldtog met skakeltoere na Europa en Australië en ’n opvolgtoer na die VSA sal ook gereël word. Meer inligting hieroor sal binnekort aangekondig word,” sê Roets.

Ronald Lamola, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), het onlangs ook bevestig dat die ANC nie net van voorneme is om landelike grond te onteien nie, maar ook stedelike grond. Roets sê dat eiendomsreg die hoeksteen van ekonomiese ontwikkeling is en dat die ANC se versnelling van onteiening sonder vergoeding as ’t ware op ’n versnelling van ekonomiese agteruitgang neerkom.

Similar Posts