|

AfriForum versoek dringende gesprek met polisieminister oor plaasmoorde en grondgrype

AfriForum het op 7 Maart 2018 ’n versoek aan genl. Bheki Cele, die nuwe minister van polisie, gerig ten einde ’n ontmoeting te reël om plaasmoorde en onwettige grondbesetting te bespreek. Dít volg ná talle uitlatings vanuit politieke kringe sedert die begin van die jaar oor die onteiening van grond sonder vergoeding.

“Politieke uitsprake wat wettige grondeienaars toenemend soos die vyand of selfs gronddiewe uitbeeld, skep die klimaat vir ’n styging in plaasaanvalle. Daar was reeds in Januarie 2018 dubbel die aantal plaasaanvalle as in Januarie 2017,” sê Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Volgens Cameron is daar reeds voorvalle waar grond onwettig beset word weens politieke uitsprake – veral dié van Julius Malema, leier van die EFF, en president Cyril Ramaphosa se aanvaarding en goedkeuring van die beleid om grond sonder vergoeding te onteien.

“Onverantwoordelike politieke uitsprake verhoog die vlak van onsekerheid en veroorsaak verdere gevoelens van bedreiging vir wettige grondeienaars. Ons wil met Cele vergader om te praat oor wat die polisie gaan doen om wet en orde te handhaaf in gemeenskappe waar eiendomsreg toenemend onder druk kom,” volgens Cameron.

Cameron meen dat ’n gesprek met Cele krities is om samewerking tussen die polisie en burgery te bewerkstellig, asook om ’n vreedsame oplossing in die soeke na wet en orde – in veral landelike gebiede – te kry. Hy benadruk dat mense betrokke moet raak by gemeenskapsveiligheidstrukture om sodoende te mobiliseer teen onwettige grondgrype.

Similar Posts