|

AfriForum verskerp internasionale veldtog ten spyte van Sisulu-kritiek

AfriForum sit sy veldtog voort om internasionale regerings in te lig oor die eiendomsbedreiging en plaasmoorde in Suid-Afrika, ondanks die kritiek wat Lindiwe Sisulu, die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, teenoor dié organisasie uitgespreek het. AfriForum het Sisulu se bewerings dat die burgerregte-organisasie verkeerde inligting versprei en paniek saai, verwerp.
Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir internasionale skakeling, kan al die feite wat AfriForum bekend maak, bevestig word.
Dit is ’n feit dat die ANC as regerende party in Desember 2017 tydens sy nasionale kongres onteiening sonder vergoeding as beleid aanvaar het. Dit is ook ’n feit dat die Suid-Afrikaanse parlement op 27 Februarie 2018 met ’n meerderheid gestem het ten gunste daarvan dat ’n proses begin word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Verder is dit ’n feit dat plaasboere tans ernstig bedreig word. ’n Ontleding van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se statistiek van die afgelope 21 jaar dui daarop dat daar, konserwatief bereken, gemiddeld meer as een plaasaanval per dag en meer as een plaasmoord per week plaasvind.

“Dat die regering by monde van minister Sisulu skynbaar nie hierdie feite as onaanvaarbaar beskou nie, bewys juis waarom dit noodsaaklik is dat die burgerlike samelewing ’n veldtog van hierdie aard aanpak en ondersteun. Die minister se gerusstelling oor regeringsoptrede wat binne die grondwetlike raamwerk sal geskied, bied geen gemoedsrus nie, aangesien die wysiging van die Grondwet deel is van die proses ten gunste waarvan die parlement gestem het. Die regering mag buitelandse regerings en meningsvormers se intelligensie onderskat, maar AfriForum maak ons nie daaraan skuldig nie,” sluit Bailey af.

Similar Posts