|

AfriForum sit internasionale veldtog teen onteiening sonder vergoeding voort met oorhandigings aan diplomatieke missies in Suid-Afrika

AfriForum het vandag inligting oor grondhervorming in Suid-Afrika en die burgerregte-organisasie se kommer oor die regering se voorneme om onteiening sonder vergoeding te wettig, aan verskeie ambassades en hoëkommissariate in Suid-Afrika oorhandig. Daarmee word die betrokke lande se steun teen sodanige onteieningsprosesse gevra.

Die meer as 50 diplomatieke missies wat gekontak of besoek is, sluit in dié van die VSA, Verenigde Koninkryk, Duitsland, Japan, Namibië, Botswana, Australië, Singapoer, Nederland, België, Indië, asook ander groot handelsvennote van Suid-Afrika en lande wat sterk standpunt inneem ter beskerming van privaat eiendomsregte.

In die voorlegging aan die ambassades en hoëkommissariate maak AfriForum dit duidelik dat die organisasie wil toesien dat Suid-Afrika sal aanhou om buitelandse beleggings te ontvang, dat die ekonomie moet groei en daarmee saam ook werksgeleenthede en geleenthede vir volhoubare welvaartskepping vir almal in die land. Indien privaat eiendomsreg egter bedreig of afgeskaf word, kan dit ’n rampspoedige ekonomiese ineenstorting tot gevolg hê, iets wat ten alle koste voorkom moet word.

Die aksie van vandag vorm deel van ’n omvattende internasionale veldtog. Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, en Ernst Roets, die organisasie se adjunk- uitvoerende hoof, besoek ook tans die VSA om gesprekke aldaar in dié verband met meningsvormers te voer. Verder sal besoeke aan Australië, Europa en Brittanje eersdaags plaasvind.

Die kort memorandum oor grondhervorming wat vandag aan die diplomatieke missies oorhandig is, word hierby aangeheg. ’n Meer omvattende verslag oor grond in Suid-Afrika, soos gesien vanuit ’n georuimtelike perspektief, kan hier geraadpleeg word: AfriForum – Land and land reform.

Similar Posts