|

AfriForum publiseer lys van plase wat vir onteiening geteiken word

AfriForum het vandag die lys van plase op sy webblad bekend gemaak wat klaarblyklik deur die regering geïdentifiseer is om in die komende weke sonder vergoeding onteien te word. Dít volg nadat die regerende ANC in die afgelope week gesê het dat die party 139 plase vir hierdie doel geïdentifiseer het. Die lys van plase was egter vertroulik en nóg die party, nóg die regering was bereid om dit bekend te maak.

AfriForum het egter ’n dokument bekom wat deur die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming gesirkuleer word as ’n lys van plase wat vir hierdie doel as toetssake sal dien. Die dokument bevat egter nie die besonderhede van 139 plase nie, maar wel 190 eiendomme.

AfriForum doen ’n beroep op die publiek om dié lys na te gaan en te versprei sodat betrokke plaaseienaars die organisasie kan kontak om ’n gesamentlike regstrategie voor te berei.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat ’n voorlopige ondersoek daarop dui dat daar waarskynlik talle plase op die lys is wat geen geskiedenis van grondeise het nie en waaroor daar ook nie tans ’n dispuut tussen die eienaar en die staat bestaan nie.

“Ons verwag dat talle van die grondeienaars geskok sal wees om te hoor dat hul eiendom vir hierdie doel geïdentifiseer is. Dit is juis waarom dit so belangrik is dat hierdie lys versprei word en dat mense ons moet kontak.”

Roets voeg by dat hierdie dokument as ’n wekroep moet dien vir diegene wat glo dat die regering goeie bedoelings het en wat nog wonder of onteiening sonder vergoeding werklik tot groter voedselsekerheid sal lei.

“Dit is duidelik dat die motief nie is om beweerde historiese foute reg te stel nie, maar dat daar politieke bymotiewe in hierdie proses is.”

Die lys kan by www.onteiening.co.za besigtig word.

Similar Posts