|

AfriForum oorhandig memorandum en petisie teen onteiening by die parlement

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n memorandum en ’n petisie, waarmee daar teen die voorgenome proses van onteiening sonder vergoeding beswaar aangeteken word, by die parlement ingedien. ’n Petisie wat deur sowat 250 000 bekommerde lede van die publiek onderteken is, waarin daar beswaar teen onteiening sonder vergoeding aangeteken word, is ook by die parlement ingedien.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die regering se voorneme om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak op ’n verdraaide beeld van die verlede, ’n bedrieglike grondoudit en ’n verwronge begrip van basiese ekonomiese beginsels geskoei is.

Die memorandum bevat ’n opsomming van AfriForum se grootste besware teen die voorgenome proses om Artikel 25 van die Grondwet te wysig om die staat te bemagtig om eiendom sonder vergoeding te onteien.

’n Verslag, waarin die werklikhede oor grondbesit in Suid-Afrika uiteengesit word, is saam met die memorandum ingedien. Die doel hiervan is om aan die parlement te wys dat die besluit wat vroeër vanjaar met betrekking tot onteiening sonder vergoeding in die parlement geneem is, op ’n bedrieglike staatsoudit gebaseer is.

Roets verduidelik hoewel AfriForum beswaar teen die proses aangeteken het om die Grondwet te wysig en sy regte voorbehou om die proses in die hof te beveg, die organisasie glo dat dit belangrik is om die feite met betrekking tot onteiening sonder vergoeding – en die potensiële destruktiewe gevolge daarvan – ter tafel te lê.

AfriForum sal ook aan die parlement skryf met die doel om mondelinge voorleggings oor hierdie kwessie aan die parlement te maak.

Similar Posts