In reaksie op die staatsrede van 2018 wat pas deur pres. Cyril Ramaphosa gelewer is, het AfriForum verklaar dat die inhoud daarvan eers na behore beoordeel sal kan word wanneer die president se politieke wittebrood verby is en die werklike betekenis van sy verwysings na onder meer transformasie en grondonteieningsplanne in die uitvoering daarvan duidelik word.

Na die politieke onstuimigheid wat die aanvang van 2018 in Suid-Afrika gekenmerk het, het pres. Ramaphosa met die staatsrede duidelik gepoog om ’n versplinterde gehoor te verenig. In die proses het hy selfs ’n paar woorde Afrikaans gepraat en erkenning aan die taal- en kulturele verskeidenheid van die land se gemeenskappe gegee.

Sy fokus was veral op ekonomiese herstel en groei. Hy het die meeste van die ernstigste probleme in die land eerlik geïdentifiseer, soos die onaanvaarbare hoë jeugwerkloosheidsyfer en die krisistoestand van ondernemings in staatsbesit.

Ongelukkig het die president geen sekerheid gegee oor die kwessies wat juis die ekonomie in onsekerheid dompel en beleggers afskrik nie. Daar is vlugtig na hierdie kwessies, insluitend grondonteiening sonder vergoeding, nasionale minimum lone, transformasie en gratis tersiêre onderwys, verwys, maar presies hoe dié programme uitgevoer sal word, moet nog gesien word. Veral onrusbarend, was die lang en luide applous in reaksie op sy verwysing na grondonteiening sonder vergoeding.

Ander krisissituasies, soos die verval van die onderwysstelsel en die onaanvaarbare hoë misdaadsyfers is vlugtig genoem en oorvereenvoudigde “oplossings” is genoem. Dít sluit in die bou van meer skole, opleiding van meer onderwysers en nouer vertrouensbande tussen die polisiediens en die gemeenskap. Baie sterker optrede teen onder meer verlammende vakbondoptrede in skole, wanfunksionele onderwysdepartemente, die skep van misdaadvoorkomende strategieë en effektiewe, kragdadige optrede teen misdadigers, sal nodig wees om enigsins ‘n verskil op hierdie uiters belangrike terreine te maak.

Beloftes en idealistiese uitsprake was volop, maar of die hoopvolle atmosfeer wat pres. Ramaphosa probeer skep het, volhoubaar sal wees en op konkrete positiewe resultate sal uitloop, sal net die tyd leer.

Die staatsrede beklemtoon dus weer die noodsaaklikheid van ’n sterk, onafhanklike burgerlike gemeenskap en burgerlike instellings wat politici vir hulle optrede en beloftes aanspreeklik kan hou, en waar diegene faal, self kan intree om ’n veilige en volhoubaar voorspoedige toekoms te bou.