|

AfriForum lewer kommentaar op voorgestelde Tshwane-grondbestuursbeleid

AfriForum het op 6 Augustus 2018 kommentaar ingedien oor die Stad Tshwane se konsepgrondbestuursbeleid rakende die vervreemding en onteiening van onroerende eiendom. Openbare streekvergaderings is oor hierdie beleid aangebied en die publiek kon kommentaar hierop by die stadsraad indien.

“Hierdie beleid moet belyn wees met die legaliteitsbeginsel, met in ag name van rasionaliteit en proporsionaliteit en behoort die stad daarin by te staan om sy grondwetlike verpligtinge na te kom deur uitvoer aan sy geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) te gee. Die stad behoort nie by die eiendomsmark betrokke te raak nie, aangesien die privaat sektor goed toegerus is om dít te bestuur. ’n Institusionele kompetisie in die eiendomsmark sal lei tot ’n ongelyke speelveld met gepaardgaande risiko’s vir die breër gemeenskap,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Noord.

“Subparagraaf D van die beleid verwys na die beskikking oor ‘surplus eiendomsbates’ ten gunste van voorheen benadeelde lede van die gemeenskap en vir die doeleindes van swart ekonomiese bemagtiging. AfriForum vra nou hoe hierdie surplus ontstaan het, aangesien een van die beginsels van openbare administrasie die bevordering van die ekonomiese en doeltreffende gebruik van hulpbronne is. Munisipale dienste moet ook op ’n onpartydige, regverdige en billike wyse sonder enige vooroordeel gelewer word. In plaas daarvan om die stad se opsies in te perk deur oor surplus grond te beskik, moet die stad homself eerder laat lei deur die Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk (ROR) en die behoeftes wat in die GOP geïdentifiseer is,” sê Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslike regeringsake.

AfriForum het die stad ook in sy brief herinner dat die stad grondwetlik verplig is om die funksies vervat in Skedule 4B en 5B van die Grondwet uit te voer en om die ander twee regeringsfere daarin by te staan om uitvoering aan die Handves van Regte te gee. Dit mag ook nie met privaat ondernemings in die eiendomsmark kompeteer nie. Eiendom wat in die stad se besit is, moet dus beperk word tot grond wat nodig is om sy grondwetlike verpligtinge na te kom. Dit is daarom noodsaaklik dat die surplusgrond waaroor daar beskik word verkoop moet word tot voordeel van die gemeenskap in wie se beste belang die stad veronderstel is om op te tree.

In die uitvoer van sy grondwetlike verpligtinge moet die stad deur sy GOP en ROR gelei word. Die stad se hooffokus is dienslewering, terwyl die privaat sektor as die enjinkamer van ekonomiese aktiwiteit in die stad die grond moet ontwikkel en ekonomiese geleenthede moet skep.

Similar Posts